Nog ietsie van Communitas

Communitas se goed het kopiereg op en alle regte word voorbehou.  Maar hulle website is so groot, as iets nie meer op die voorblad is nie – en jy weet nie presies in watter kategorie dit was nie – is dit vir my onmoontlik om te vind (soekfunksie ingesluit).  Miskien is ek onnosel.  Miskien is ek meer rekenaarvaardig as die gemiddelde dominee en kan ek dit steeds nie kry nie.

Hoe dit ookal sy, kopiereg ten spyt, bêre ek weer een van Communitas se artikels hier sodat ek dit in die toekoms maklik kan kry en nie allerhande links hoef te volg nie.  (Ek hoop my verskonings is nou voldoende dat ek nie moeilikheid kry oor die kopiereg nie.)

Charl Stander se:  Ek sal alles doen, maar asseblief, kom vat my hand. . .

Ek verwys na die brief “Geestelike leier moet weet oor gays en moenie vir my vrae bang wees nie” in By van 20 Februarie 2010.

Lidmaat van Vlaklaagte-Suid het in ‘n goeie brief gesê wat hy/sy van ‘n geestelike leier verwag. Dit is goed so, want dit help my baie. Ek het met die lees hiervan besef dat ek, en waarskynlik ander predikante ook, ons lidmate dikwels in die steek laat. Ek is jammer daaroor en sal alles moontlik doen om dit reg te stel.

Ek sal dit nastreef, en te midde hiervan steeds voortgaan om die gemeente te dien in die groot verskeidenheid ander rolle wat wissel:

  • van geestelike leier tot vrederegter,
  • van maatskaplike werker tot bouprojekleier,
  • van sieketrooster tot finansiële bestuurder,
  • van fondsinsamelaar tot voorbidder,
  • van huweliksberader tot sielkundige.

Ek sal aanhou probeer om in een asem iets te sê:

  • wat die kindertjies opgewonde maak;
  • wat vir die tieners “cool” klink;
  • wat vir die grootmense moed gee
  • en wat vir die bejaardes vertroos.

En ek sal hard werk om al die skape in een kraal te hou, naamlik:

  • die oues en die jonges;
  • die rykes en die armes;
  • die afvalliges en die gehoorsames;
  • die eensames en die sosiale randfigure.

Ek sal steeds poog om die een oomblik in opregtheid te vertroos en saam te huil en dan minute later vriendelik te groet en lekker saam te lag. Is dit wat Martin Luther bedoel het toe hy gesê het predikante is God se narre?Verder onderneem ek ook om die Woord van die Here vreesloos te verkondig soos wat ek Hom hoor en verstaan. Dis nooit maklik nie, want immers, is die Here besig om ‘n steeds feilbare geestelike leier te vorm en sukkel ek ook maar om die boodskap van troos, bevryding, vergifnis en versoening behoorlik te internaliseer. Weens my eie gebreke faal ek dikwels om hierdie wonderlike boodskap sinvol na vandag se konteks te transponeer.

Aan die ander kant trap die Here se Woord ook soms op tone. Dit vlek oop en ontbloot en dring aan op verandering. En dis nie altyd maklik om hierdie twee pole konsekwent vas te hou nie. Daar’s ‘n verhaaltjie in omloop van  die kerkraad wat vir die nuwe dominee gesê het om tog nooit te preek oor: barmhartigheid, rassisme, sending, drankmisbruik en egbreuk nie, maar wel oor die Jode …….. want hier by ons is nie Jode nie.

Tog sal ek as geestelike leier wil aanhou om te sê wat ek by God hoor. Al maak dit ongewild. Al word ek dikwels verstoot of verjaag, beskinder of gekritiseer, bespot of uitgelag. Of nie altyd ernstig opgeneem nie.

John Goldingay beskryf dit so:  ‘n Profeet van God voel dikwels soos iemand wat van voor geskiet word deur die vyand en van agter deur sy eie regiment.

Dus, sal ek ter wille van jou en baie ander, die moeilike pad vol dorings en skerpioene loop. Want inderdaad: om hiermee aan te gaan is moeilik, maar om nié aan te gaan nie, is onmoontlik!

Dankie vir jou brief. Dit motiveer my. Ek vra jou opreg: bid vir my en kom vat my hand. Want as jy en God my nie hiermee help nie, is ek gedoem om te misluk.

Advertisements

4 Responses to “Nog ietsie van Communitas”

  1. Die soek-enjin gee vir jou hierdie artikel met enigeen van die soekterme: “charl” of “stander” of iets uit die titel soos “ek sal alles doen” of “vat my hand” onder die eerste 2 resultate. DWS ‘n woord of frase uit die skrywer se naam en van of die titel van die artikel bring jou baie vinnig by die resultate. Selfs as jy die frase “geestelike leier” intik, ‘n frase wat in die eerste paragraaf van die inhoud voorkom, kry jy die artikel binne die eerste 15 resultate. Interessant, as jy net “Begelei mekaar” intik, die kategorie waarbinne dit geplaas is, kry jy dit ook binne 15 resultate.

    Maar jy is welkom om dit hier te bêre.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: